Sanko Lewis se herfs

So mooi! ‘alles sterf tog so verskriklik mooi. . . ‘

Net Ek

Seisoenale Verdenking

Hy weet dit is herfs
want die ginkgo biloba
sidder geel – soos verdriet;

en hy weet dit is herfs
want die esdoornboom
skud bloed van haar hande af.

Dit is herfs, en hy weet dit,
want sy binnegoed is bruinblare
en hy staar voëlverskrik na sy verlede.

Dit is herfs.  Ongetwyfeld is dit herfs.
Want alles sterf tog so verskriklik mooi
nes die noodlottige son in brons en in rooi.

…Sanko Lewis

herfs

netek22

View original post

Sewe sondes, nee – mos meer.

Maria en Reinette los my nou maar net nie!  Ek haal aan:

‘Maria sug.  “Sê nou ek kry nie ‘n man nie?” sê sy.  “Dan sit ek altyd by die huis soos tante Charlotte, met ‘n kat in plaas van ‘n kind.”  “Ag!” sê Reinette,  “jy kan altyd by my kom bly.  Ek gaan met ‘n ryk man trou.  Ek sal my eie kar en perde hê, vier eenderse swartes, elkeen met ‘n wit pluim op die kop.”  “Maar wat gaan jy heeldag máák?” vra Maria.  “Hoe bedoel jy, wat gaan ek maak?  Ek sal kuier en kaartspeel, en perdry én dans.  Miskien sal ek kinders hê.  Nie meer as ses nie.  En jy, Maria?  Wat gaan jy maak?”  ‘Ek weet nie,’ sê Maria.  “Ek wil nie ‘n oujongnooi word soos tante Charlotte nie.  Maar partykeer wonder ek of ek wíl trou. . . en kinders hê. . . dis dalk vervelig.  Het jy al daaran gedink?”  “Nee,” sê Reinette.  “Wat wil jy dan doen?”  “Ek weet nie,” sê Maria weer.  Sy sping op en reik met haar arms asof sy die hele wêreld wil vasvat.  “Iets wil ek hê. . . iets wil ek doen. . . iets anders. . . maar ek weet nie wat nie.”

Hierdie aanhaling het ek soveel male by verskillende geleenthede voorgedra dat dit deel van my geword het.  Soos Maria, wonder ek ook:  Wat het van Reinette geword?  Het sy haar swart perde met die pluime gekry?  Die kinders?  Speel sy kaart?  Kuier sy?  Bowenal wonder ek of sy dans?!

Wat word van ons drome?  Wat maak ons met ons drome?

Ek wou nooit trou nie.  Ek wou nie kinders hê nie.  Ek sou skryf.  Of toneelspeel.     Reis.  Dans!  Maar die lewe gebeur.  En liefde kom soos ‘n dief in die nag.

Ek het geweier om myself te verloor in rys en aartappels.  Ek het verder gekyk.  My drome het  gebly.  Nuwes het bygekom.  Bakens is geskuif.  Beter.  Verder.  Die dag wanneer ons nie meer droom nie, kan ons nie hoop nie en wanneer ons nie hoop nie, verval ons in die alledaagse.  In die sleur.  In eentonigheid.  Sonde?  Ek dink so.

Die lewe werk vir min van ons uit soos ons dit beplan.  Die oujongnnooi (wat ek wou wees) is nou getroud met drie kinders – nee ses – daar het mos nog drie bygekom.  Nodeloos om te sê is dit van die grootste vreugdes in my lewe.  Om jouself in ‘n kind te sien is immers om te weet ‘n deel van jou leef vir ewig voort.  (Wat ís dit met my en die ewige iets wat ek wil nalaat?)  Om ‘n lewensmaat te hê wat jou ken en aanvaar is om elke dag goedkeuring in iemand se oë te sien.  Om ‘n stille liefdesverklaring aan te hoor.

Dit kan en mag egter nie ons drome se plek inneem nie.  Die lewe, vir my, stop nie by man en kind nie.  ‘n Wye wêreld lê daar buite.  Vol uitnodiging.  ‘n Wêreld wat sê:  Verken.  Ontdek. Dans.  Al is daar nie altyd ritme nie, steek ek nogtans die pouveer in my hoed!

Ek het ‘n storie wat ek, o tog so graag, vertel.  – My Mia-kind soek altyd nuwe uitdagings.  Nuwe moontlikhede.  Nuwe horisonne.  ‘n Paar jaar gelede nooi sy my om saam met haar Kilimanjaro te gaan klim.  Ek antwoord eenvoudig:  ‘Nee, ek is nog te jonk.  Ek spaar dit tot wanneer ek tagtig is.’  Waarskynlik gaan ek nooit die berg takel nie, aangesien ek ander drome het.  Nogtans hou ek dit vir iets om te doen wanneer ek alles klaar gedoen het wat ek wíl doen.

Ek kyk terug en sien soveel uitdagings, ondernemings,  wedrenne wat voltooi is.  Sommiges suksesvol ander nie.  Nogtans het ek probeer.   Nogtans droom ek voort.  Van liefde.  Van opregte vriendskap.  Van ‘n wêreld vol vrede.  Van my in ‘n bootjie op ‘n meer waar die son kaats op water.  Van ‘n Kilimanjaro wat wag om geklim te word wanneer al die ander drome waar geword het.

Om Jouself Te Verloor.

‘To be lost is to be fully present, and to be fully present is to be capable of being in uncertainty and mystery.  And one does not get lost but loses oneself, with the implication that it is a conscious choice, a chosen surrrender, a psychic state achievable through geography.’  – Rebecca Solnit

Daar is baie dinge waarvan ek nie hou nie.  Chaos.  Geraas.  Besige strate.  Winkelsentrums.  Skares.  Nie eers baie geld, en ek bedoel baie, sal my by ‘n kerkbasaar kry nie.  Mense wat maal en drom tesame met al die byklanke kan my ver laat hardloop.  Musiek wat in die agtergrond blêr terwyl ‘n gesprek aan die gang is, bly ‘n bron van irritasie.  Óf jy luister musiek, óf jy gesels.

Ek hou van stilte.  Van hadida’s wat roep.  Van wind in blare.  Die geluid van reën op ‘n dak.  Sonbesies wat skree.  Branders wat klap op die strand.  Ek hou van wit. My versugting is immer dat ek ‘n huis begeer met net wit meubels.   Ek hou van swart.  Maar bowenal hou ek van stilte.

Al hierdie bogenoemde, vinnig vasgepende, dinge het my al baie laat wonder oor myself.  Hoekom?  My verklaring was altyd dat ek self te onrustig is om nog onrustigheid in my persoonlike sfeer te bring.

Toe lees ek Rebecca Solnit.  ‘Nee’, sê hierdie vrou, dit werk nie so nie.  Dis nie die rede nie.  Uiteindelik dus ‘n verklaring vir my fobies.  Halleluja!

Mense soos ek, moet onsself verloor om onsself te kan vind.  Ons moet die wêreld verloor om onsself te vind.  Om nie jouself te verloor nie, is (vir ons) om nie te leef nie.  Ek noem dit ‘n toestand van ‘is’.  Jy ‘is’ net.  Jare gelede het ek al verklaar dat ek net wil ‘is’.  Jy kom in harmonie met jouself.  Jy luister na jou eie stem.  Jy kyk na jouself, groet jouself, en knoop ‘n gesprek aan met die self.  Dit vra vir stilte.  Vir ‘is’.  Ek kan egter nie ‘is’ in chaos of enige van bogenoemde dinge waarvan ek nie hou nie.  Dan hoor ek nie meer myself nie.

Om jouself te verloor is om aan niemand te dink nie.  Om jouself by jouself te wees.  Om soms te dink en soms nie eens te dink nie.  Jy is net.  Jy skud die boeie wat ander dink jy is, af.  Selfs wat jyself dink jy is.

Ek verloor myself in tuine.  Tussen bome.  In katedrale waar die stilte soos digte mis hang.  Langs die strand.  By klokke wat beier.  Op verre, vreemde paaie.  In my stoel waar ek sit.

Om jouself te verloor is om jouself te vind.  Dan groet ons weer.  Kyk mekaar in die oë.  Sê vir mekaar:  ‘Ek hou van jou.’

Splendor in the Grass.

I can see you’re thinking baby

I’ve been thinking too

about the way we used to be

and how to start anew/

Maybe I’m a hopeless dreamer

maybe I’ve got it wrong

but I’m going where the grass is green

if you’d like to come along/

Back when I was starting out

I always wanted more

but every time I got it

I still felt just like before/

Fortune is a fickle friend

I’m tired of chasing fate

and when I look into your eyes

I know you feel the same/

All these years of living large

are starting to do us in

I won’t say it wasn’t fun

but now it has to end/

Life is moving oh so fast

I think we should take it slow

rest our heads upon the grass

and listen to it grow/

Going where the hills are green

and the cars are few and far

days are full of splendor

and at night you can see the stars/

Life’s been mowing oh so fast

I think we should take it slow

rest our heads upon the grass

and listen to it grow

Pink Martine – Splendor In The Grass / Lyrics MetroLyrics

Afskeid en Vertrek.

om met die instap te hoor:  “kyk, Daan is dood.”

“o God, wanneer?”

“vanoggend om sewe,

die laaste dae was bitter seer.”

My skoonpa is dood.  Daar is geen ander manier om dit te sê nie.  Ek kom weer onder die indruk van hoe kort ons reis.  Ek kom weer te staan voor afskeid.   Altyd maar die afskeid.  Altyd maar die vertrek.

Ons is voortdurend op reis.  Na ander lande.  Binne ons eie land.  Van een verhouding na ‘n ander.  Vriendskappe word agtergelaat vir nuwes.  ‘n Minnaar vind ‘n ander een.  Klaarblyklik ‘n beter een.  Vrouens stap uit huwelike van dertig jaar en meer en reis voort.  Alleen of met ‘n ander een.  Dan is daar ook die reisigers wat maar net binne hulself reis.  Na ‘n beter plek.  Ewig op soek na nirvana.  Ewig op reis.  Tot ons dan, uiteindelik én onvermydelik, reis na die anderkant.  Weg uit hierdie lewe.  Weg uit die bekende.  ‘n Reis na die ewigheid.

Ons groet vir ‘n laaste maal.  Neem afskeid.  Draai om en stap weg met ‘n gevoel van verlies.

‘Wat bly;  wat bly?  Die kaste is leeggemaak, die laaste tasbare herinnering weggeruim.’  Wat bly?  Wat bly?  ‘Liefde bly, en herinnering;  maar dit kan nie al wees nie, dit kan nooit genoeg wees nie.  Verlange bly, verlange om die patroon te soek en te vind:  verlange ondersoek vraend die meanders en tas die buitelyne af, ongedurig en onseker soos ‘n blinde.’

Wat bly?  Wat bly?  ‘Woorde bly, die woorde waarvoor daar geluister is en wat moeisaam bymekaargesoek is, woorde wat stadig en peinsend langs mekaar gelê is:  knielend op die grond, bukkend oor die werk, gesig na die aarde gekeer, wy die soeker hom of haar aan die enkele taak, om die klipskilfers en fragmente een vir een naas mekaar te lê, te verplaas of te verwerp, totdat die mosaïekpatroon voltooi is.  Woorde bly dus, versigtig en presies soos klein blink steentjies waaruit patrone opgebou word.  En wat meer as dit:  wat nóg? ‘

Wat bly?  Wat bly?  ‘Wat bly, maak uiteindelik ook nie saak nie.  Jy tel die klippie op, raak bewus van sy gewig, voel sy koelheid teen jou vingertoppe, weeg dit, en sit dit neer op sy bepaalde plek.  Wat die patroon is wat onder jou hande gestalte kry, en of dit ooit voltooi sal word, gaan jou nie aan nie:  die donker bewaar sy geheime.  Jy doen jou deel.

Onder die asfalt en beton stroom die water see toe, en teen die muur bot die takke van die boom, teen die glas van die geslote venster tik die bottende tak, en die uiteindelike uitkoms, ofskoon verborge, is seker.  Die water is sterker as die klip, en die wassende lewe in die tak sterker as die ruit waaraan dit klop;  in die donker blom die boom, ongesien in helderheid.

Hy het aangekom.’

Dit is dan wat bly.  ‘n Herinnering.  ‘n Woord.  Liefde.  Die verbeelde vlug van dink jy sien hom of haar tussen  mense op straat.  Die stille lees van ‘n boek en skielik is hy daar tussen die swart reëls.  Om ‘n fluit te hoor en om, uitbundig bly na al die jare, te dink:  ‘Dis my Pa!’  Om te besef hy het al meer as twintig jaar gelede vertrek.  Ons het twintig jaar gelede afskeid geneem.  Of het ons?

Wat maak jy met jou reis?  Wat maak ek?  Verken ons vreemde plekke?  Verken ons die uithoeke van ons hart?  Elkeen se reis lyk anders.  Elkeen het ander drome.  Ander vergesigte.  Dit maak nie saak nie.  Solank jy net oppad is.  Solank jy net nie in die leuenstoel sit nie.  Tevrede is met jouself nie.  Dan bestaan jy net.  Dan groei jy nie.

Dit is my vaste oortuiging dat God ons geskape het met die doel dat ons onsself moet ontwikkel na die beste van ons vermoë.   Dat ons nie net tevrede sal wees met dit waarmee ons gebore is nie.  Dat ons deur hierdie lewe moet gaan en dit moet geniet!  Dat ons moet ontdek.  Verken.  Nuwe vaardighede sal aanleer.  Dat ons onsself moet liefhê.  En die om ons.  Dat ons sal lag.  Sal vrolik wees.  Die reis sal geniet.

Wanneer ons faal om dit te doen, wat sal bly.   Wat sal bly?  Wat sal bly?

voor my hut aan die soom van die water

lê boomstompe uitgepoel          asof van as

en die omlyning van tyd

-klinkers en medeklinkers van daardie groottaal

wat ons nie meer kan lees nie

en iewers beier die lied nog in ons gebeente – /

ons het’n vreugdevuur gemaak en gelag

om vonke en sterre in die wynglas te vang

maar in die nag was daar stilte

soos ‘n toekoms van verlange

en dan het ‘n maan van brons geklok

om ‘n skil van bonsende beweging oor die see te lê

 

Aanhalings:  Jan Blom – oorblyfsels:  ‘n roudig.

Karel Schoeman – Afskeid en vertrek.

 

 

 

Boord van Woorde.

Sy plant haar woorde in die grond

Sy lei dit nat met trane

Sy hang haar woorde in die wind

Gooi haar woorde na die son

Strooi haar woorde oor die see/

Wie sal hoor

Wie sal hoor

Wie sal hoor

In die boord van woorde/

Sy skreeu haar woorde vir die nag

die sterre het ore

Sy vang haar woorde teen die rots

Sy bak haar woorde in die vuur/

En die noordewind kom

En haar woorde waai ver

Haar woorde word saad

Die saad word ‘n ster

En sterrre verskiet

Verdwyn in die niet…

In die boord word weer woorde gebore/

Sy pluk haar woorde in die boord

Sy pak hul in haar mandjie

Sy vleg haar woorde in ‘n krans

Poets haar woorde met fluweel

Dra haar woorde soos ‘n kroon

– Amanda Strydom.